Video: Die hemel is op Spookfontein
3
Nov 2020

Lees meer in

’n Naweek op die wynplaas Spookfontein wys mens weer waar die hemel kan wees.

Die landskap van die Hemel-en-aarde-vallei het die komposisie van ’n klassieke natuurskildery. Met die see agter jou skouer, lê die verdwynpunt diep, diep, diep, met die helder lug van die Overberse Rûens teen die noordelike horison.

Weerskante, soos by ’n leivoor, bepaal berge die argitektuur van die vallei. Mens kan jou beswaarlik indink dat hierdie streek in Suid Afrika lê, want die teksture is suiwer Europees – net die teenwoordigheid van fynbos-blomme verklap die bodem.

Fynbos is van die aarde se mees diverse plantegroei-tipes, met vestommende endemisme (plante en diere wat slegs hiér voorkom).

Spookfontein, met hul versigtige bestuur van die veld, is die paradys vir die plantliefhebber, en veral met die lente sien mens besondere plante; sommer met die intrap, het ek ’n lieflike en vermoedelik skaars Moraea (uintjie), knap langs die proelokaal raakgeloop.

Telkemale staan mens verstom oor hierdie aangrypende bioom, wat, alhoewel dit op byna suiwer en steriele sand groei, juweel na juweel oplewer.

Stap jy bergop, loop jy deur laag op laag van plante, eie aan hul spesifieke stratum. Ek bly verstom oor hoe plante aangepas is vir mikro-habitat, want binne vyf meter bergop, verander die komposisie van spesies dramaties. Vyf, miskien ses soorte sewejaartjies kom hier voor, om nie te praat van Watsonia, Moraea en boegoe’s nie. Spookfontein se plantegroei is soos basaar-poeding, met soet verrassings.

Hierdie vrygewige landskap is natuurlik ook bekend vir die fabelagtige wyne wat hier produseer word, en Spookfontein is geen uitsondering. Graag sonder ek twee van hul wyne uit, die Sauvignon Blanc en hul hemelse Pinot Noir.

Sauvignon Blanc beleef nou, net soos Chardonay in die verlede, ’n bloeitydperk. Ongelukkig is daar deesdae ’n oseaan van hierdie kultivar beskikbaar, maar met die eerste neusopslag het ek besef dat Spookfontein iets reggekry het wat ander wynmakers ontwyk. Die wyn is onmiddelik opvallend aan die subtilitiet van die geur, met ’n riggel van “veld” wat my aan bokboegoe laat dink.

Maar die kroonprins van hul wyn is die verruklike Pinot Noir. Jare gelede het ek die voorreg gehad om van die allerbeste Franse Pinot Noirs onder die neus te kon kry. Altyd, met die helderheid wat reuksintuiglike geheue bring, sal ek daardie eerste indruk onthou: grond, vars kompos, en dan, geleidelik die bessies en vrugte. Hierdie Pinot Noir sal trots langs die Franse grotes staan.

Spookfontein doen sy naam gestand: een besoek, en die herinnering van veld en wyn en kos sal by jou bly, vasgelê juis omdat hierdie plek uniek en eiesoortig is.

Besoek spookfontein.co.za vir meer inligting oor hul wyne, lieflike kothuise en proelokaal met restaurant.

Taal

Afrikaans AF Dutch NL English EN French FR Italian IT Portuguese PT Russian RU Spanish ES Xhosa XH Zulu ZU

VRA VIR DAVE

Video: waaroor baklei dié bye?

Twee mannetjie-skrynwerkerbye stamp kop oor territorium

Vreemde kersie by Pearly Beach

‘n Leser vra na ‘n interessante rooi kersievrug, en vra of dit eetbaar is.

Leser vra: Siekte by spinasie?

Overwagte siektes kan by spinasie opduik. Hier is ‘n kortpad na behandeling.

HERINNERINGE

Dave onthou die Tulbagh-aardbewing

Die nag van die aardbewing het ‘n ander verhaal hom doodluiters op Robertson afgespeel.

Blommetjie gedenk aan my

Dave onthou Ouma Lily, die naeltjies van Robertson en die rite wat moet bly bestaan.

VERKENNINGS

Video: Die hemel is op Spookfontein

’n Naweek op die wynplaas Spookfontein wys mens weer waar die hemel kan wees.

Avokado’s in ’n neutedop: Wat jy in gedagte moet hou

Dis verstommend hoeveel navrae ek ontvang oor probleme met avokado-bome. Hier is ‘n paar riglyne om suksesvol met hierdie boom om te gaan.

Vreemde vlieënde voorwerp? Nee, dis lensiewolke!

Nee, dit is nie ‘n vreemde vlieënde voorwerp nie. Dit is eintlik ‘n baie natuurlike verskynsel, hoewel dit raar is.