Laat my toe om reguit te praat.
Die Idas Valley Nature Reserve lê regs van die pad wat na Rustenberg lei. Ek woon reeds 22 jaar in hierdie omgewing, en ken hierdie gebied soos my hand. Eertyds was dit ’n munisipale plantasie, met denne en bloekombome regdeur die gebied geplant.
Maar die afgelope 20 jaar is hierdie gebied eenvoudig toegelaat om te verval, selfs meer: deesdae is dit ingeneem deur indringerplante, die erosie van die vervalle paaie is skrikwekkend, en rommelstrooiers het ’n oop hek en boek. Verder word brandhout onwettig versamel, en daar word saans gejag.
By verskeie geleenthede het ek al die Munisipaliteit genader om iets aan hierdie nagmerrie te doen, maar my versoeke het eenvoudig geen reaksie of belangstelling meegebring nie. Kan mens afleidings hieruit maak? Ek dink so.
Ek vind dit tragies dat Stellenbosch, een van die mooiste dorpe op aarde, ’n perfekte binnedorp het, wat omring is deur ekologiese wanorde. Mens kry die gevoel dat solank die historiese strate netjies gevee is, dat die goedgaan met die dorp. Nee, dit werk nie só nie: mens kan nie ’n volhoubare ekonomie op ’n bankrot omgewing vestig nie.

‘n Deel van die reservaat aan’t brand. Foto: Dave Pepler
En nou het ’n groot gedeelte van die reserwe afgebrand.
Slegte nuus?
Nee, glad nie, want fynbos en die geassosieerde renosterveld moet brand om lewenskragtig en dinamies te bly. Hierdie brand was dus die regte ding, om verkeerde redes.
My versoek, opnuut, is dat Stellenbosch Munisipaliteit nou die geleentheid gegun is om ’n korrekte begin te maak aan die ekologiese herstel van hierdie kosbare natuurlike gebied. Nou is die tyd om die ganse reserwe in oënskou te neem, ’n korttermyn bestuursplan saam te stel, en dit doelgerig te implementeer.
Al die kundigheid om dit te kan goed doen is op ons dorp beskikbaar. Ons het Plant- en Dierkunde aan die Universiteit, asook die Sentrum vir Indringerbiologie; presies die kundigheid wat verlang word.

‘n Helikopter strooi water oor die vlamme. Foto: Dave Pepler
Ek sal hierdie saak weereens opneem met die Munisipaliteit opneem, want, gaan kyk bietjie na hul webwerf:
Green & Sustainable Valley
1. Explore waste to energy initiatives.
2. Bokhasi – Recycling of food waste.
3. Re-designing the six primary entrances into Stellenbosch.
4. Greening informal settlements.
5. Sustainability through food security projects.
6. The only B-Municipality that has an impressive 4 nature reserves.
Impressive?
Die brutale antwoord is nee. Sonder om die saak te politiseer, begin ek wonder of Idas Valley aan die agterspeen suig as dit by hul omgewing kom.
Hierdie reg is verskans in ons grondwet, dié van toegang tot ’n gesonde omgewing. Wat goed genoeg is vir Die Braak, is goed genoeg vir Idas Valley.
Kom ons benut hierdie ongeluk ten volle, en maak ’n begin aan die herstel van ons onvervangbare omgewing. As ons dit saam, en reg doen, kan ek waarborg die strome water van weleer, weer helder gaan vloei.
Ek staan reg om te help waar ek kan.

‘n Lugfoto wys die reservaat. Foto: Google Maps