Laat die biesies bewe
Die jaar toe ek vier geword het, het my tante Ella my aan die hand geneem en dorp uit gestap na die kerkhof. In haar ander hand was ’n vlak mandjie, die bodem bedek met snyblomme uit haar Victoriaanse tuin: skeefblom, paasrose en dwerg-dahlias. Oor die Willem Nelsrivier, deur die ongemerkte grafte van die groot griep van 1917, tot by die rusplek van haar ouers. Ná ons die graf skoongemaak en die blomme ingesteek het, het ons na die dorpsmeent langsaan gestap. En hiér het Ella ’n versie vir my opgesê:
Daar onder in die biesies
Daar lag een hondje dood
zijn staartje was bevroren
zijn beentje was bloot
Ek het in trane uitgebars, want in my geil verbeelding het daar ’n dooie hondjie gelê in elke bos riete, biesies en ruigte.
Net langs ‘n knoetserige amandelboom was daar ’n hekkie tussen Ouma Lily se agtertuin, en dié van Tant Ella en Susie, haar oujongnooi-susters. Soggens, elfuur, soos klokslag, het Tant Ella oorgestap, reguit kombuis toe, en Ouma Lil se potdeksels opgelig, en gevra: “Lil, wat kook jy?”.
Dit het Ouma só boosaardig kwaad gemaak, dat sy dadelik ‘n glas Sanatogen Tonic Wine gaan gedrink het. Ouma Lil het kos “opgesit”, knap na Oupa Boy stasie toe gery het met sy Rudge-fiets, en teen laatoggend is die opgeskepte borde, toegemaak met ‘n identiese bord, en gestoom oor kastrolle, een per bord. Dit was altyd vaalkos.

Muiskraalskop.
Skuins oorkant Ouma, het oom Fanie van Zyl, haar broer, gewoon, in ’n lieflike huis wat hy self gebou het. Sy vrou, Tant Mac, het onberispelike smaak gehad, die huis was soel, en haar tuin was ’n paradys. Daar was ’n klavier, en die mooiste geraamde kuns teen die mure, en die Kleinkaroo-lig het insgespoel deur hoekvensters.

Tante Ella.
Een Sondagoggend stap ek en Ouma Lil oor, vir ’n geselsie by Tant Mac se tuinhekkie. Terwyl ons nog so staan en gesels, kom Tant Ella uit by die voordeur, biesiegoed-besem in die hand, en vee die tuinpaadjie, tot by die hek. Sy het ons nie raakgesien nie. Sy maak die hekkie oop, en vee die ganse sypaadjie, leun op haar besem, en toe stap sy om die reuse “Lucky Bean”-boom, en vee die bas.
Tant Mac het na Ouma Lil gekyk, en gesê: “Lil, ek sê vandag vir jou dat die Here vir Ella nooit sal doodkry nie”.
Só onthou ek Tant Ella, aan die vee, in haar groot duiwehok langs die huis, in die Heilsleer, waar sy Redemption Songs op die serfyn gespeel het, en in die kombuis, waar sy apeliefies met ’n hoedenaald geprik het, sodat die vruggies nie moes stukkendkook nie.
En vandag was ek op Robertson, om Tant Ella se graf te soek. Ek het geweet dat sy nie in die NG Kerk-kerkhof begrawe is nie, maar agter die Joodse kerkhof, met name uit my jeug: Rabinowitz, Usher, Kramer en Gvirtz, meeste van hulle Ashkenazi’z uit die ou shtetils van Europa; Pole, Lituie, Rusland en Romenië.
Sonder heinings, en met die mure verkrummel, moes ek lank soek tussen die vernielde grafte, onkruid en rommel. Oplaas kry ek die graf. Ek het die onkruid uitgetrek, en die graf mooi skoongemaak. En toe het ek teen die warm grafsteen gaan sit, en gewens dat ek iets uit haar Heilsleer-boek van verlossing kon lees, of sing. Ookmaar goed, want ek sou te veel gehuil het om te sing.

Die boom voor die huis is die Lucky Bean.
Secret gardens of Stellenbosch
Everybody should have a secret garden. Just like my mysterious Aunt Ella had, living in a large Victorian house, next to my Grandma Lilly and Oupa Boy. Ella and Susie, both spinsters, shared this lifeless house, the silence only broken by the weekly playing of Redemption Songs on the harmonium. After the Salvation Army service, where Ella also played the organ, she came home to play again, mournfully and slow, until she folded her arms over the keys and wept softly. Ella had secrets, like her garden.
Klein katedrale van die veld

Tantes Susie en Ella.
Die krone van bome is die domain van voëls, kinders, malles en heiliges. Soos my groot-tante Ella, ‘n oujongnooi van Robertson. Sy het langs Ouma Lilly gebly, saam met haar suster Susie, in ‘n donker huis. Ella het die orrel gespeel by die Heilsleer en Ouma tot raserny gedryf deur elke dag in haar kookpotte te kom loer. Een Sondag-oggend het Ouma my gestuur om ‘n ui by Tante Ella te gaan leen. Ek het deur die somber voorhuis gestap, deur die kombuis, maar Ella was nêrens te siene nie. Op die agterstoep het ek “kooweeeee” geroep en Tante Elle het uit die ruigtes van die tuin geantwoord, “kooweeeee”. Dáár het ek haar gekry – in die hoogste takke van ‘n nartjieboom, baba-mossie in die hand, op pad nestoe. Die blik op haar toebroek, onder die gebreide bruin rok spook nou-nog by my. Boomklim was Ella se forte.