Maand na maand al lewe ons in ’n nuwe omgewing – die wêreld het gekrimp tot ons eie wonings. Sosiale kontak is nou sterk ingeperk, en veral by aftreeoorde sien ons die uitval van die nuwe eensaamheid.
Self jong kinders begin die gevolge dra van hierdie gebrek aan sosialisering, en mens kan met ’n groot mate van sekerheid voorspel dat hierdie toestand gaan verdiep oor die komende maande. Ons is primate, en primate omlyn hul sosiale ruimte deur aanraking en lyfkosing. Skielik is hierdie belangrike sosiale dinamiek weg, en ons moet planne bedink om dit te neutraliseer.
Wat kan ons doen, ingeperk en sonder tradisionele vlugkans, veral oor die feestyd. Ek het bietjie gaan nalees, en het heelwat praktiese wenke opgedoen. Hier volg ‘n paar:
Aanvaar negatiewe emosies
Ons is so geneig om onaangename en negatiewe emosies te ignoreer, en nog erger, om dit te begrawe, hopende dat dit sal weggaan. ’n Groter fout kan mens beswaarlik maak. Aanvaar die feit dat jy eensaam of triestig is, beskryf dit in taal of skrywe, en beweeg aan. Hennie Aucamp het altyd gesê dat, indien mens ’n “ding” ’n naam gee, word dit jou besit. Besit jou triestigheid.
Skep nuwe roetines
Zen leer ons dat die pad na wysheid gebaan word deur roetine. Staan op, maak jou bed op voor jy mag koffie drink. Gee plante water, was ruite, stryk – doen die dinge wat jy altyd aan ander afgee. ’n Sisteem van belonings aan die self werk goed hier, met die belonging slegs verdien nadat jy iets gedoen het. Neem ’n stowwerige instrument in die kas op, leer ’n nuwe taal aan, lees!
Versorg jouself
’n Ewige waarheid is dat dit goed gaan met die wêreld as dit met jou goedgaan. Die omgekeerde werk nie. So, sorg goed vir jouself deur ordentlik te eet, oefening te ky binne die perke van grendelvlak en jou geliefdes hierby te betrek.
Dink
Hierdie tyd is gemaak vir nabetragting en besinning. Ruim dinktyd in, en dink aan jou lewe, jou plig, nie net teenoor jouself nie, maar ook teenoor jou naaste, en doen iets hieraan. Verder moet ons onthou dat swaar tye nie altyd skadelik uitloop nie, maar dat heling en vordering hieruit kan kom.
- Hierdie is slegs enkele wenke en ek is seker daar is vele meer. Onthou dat jy nie alleen is in afsondering en eensaamheid nie, maar bowenal, nou is die tyd om iets daaraan te doen.