Kos tref wanneer daar spanning tussen geure is. Perfekte balans in ’n skottel verveel my want dit verras my nooit nie – dit is die suurlemoensap oor varsgebakte vis, die eetlepel suiker in kerrie, en sout op ’n perfekte ryp spanspek wat umami loslaat en van die gewone, die óngewone maak.
Ek het geliefde vriende genooi, sonder waarskuwing dat ek wou eksperimenteer met gadagtes om geurkombinasies, die hele affêre onbeproef.
Spyskaart:
- Crostini met beleë gorgonzola, cheddar en brie – Stettyn Babelki
- Oondgebakte hoender met esdoringstroop en pancetta Stettyn The Guardian, met gestoomde broccoli en ’n blaarslaai.
- Kaalgatperskes met Grand Marinier en biscotti met Stettyn Stone Rosé
Voorgereg:
Crostini is een van my gunsteling draers van geure – dit kraak perfek onder die tande en is neutraal aan smaak, veral met kaas. Ek het ’n goeie Brie bekom, en dit teen kamertemperatuur laat staan vir ’n ganse week. Dan ’n Gorgonzola, twee dae op die rak, en ’n sterk cheddar, van dié met kristalle van kalsium-laktaat, wat soos soutkorrels in die mond smelt. Hierby het ek Stettyn se vonkelwyn, Babelki, bedien. Babelki is nie ‘n Méthode Cap Classique nie, maar het ons aangenaam verras met ‘n prominente botoon van vars appels, en riggels van blomme…..

Stettyn Babelki
Hoofgereg:
Oondgebakte hoender is ’n Sondag-stapel en as mens jou oë toemaak, kan jy die smaak alte goed onthou, uit jou kinderdae. Die sterker geure van boudjies, die byna smaaklose sout borsvleis, en daardie sous wat bruin jellie word as dit afkoel. En toe dink ek aan soet, een aan rook. Ek het die hoender gekwas met esdoringstroop, en met repe pancetta daaroor. En dit werk! Die wyn hiermee bedien was Stettyn se hemelse The Guardian, ’n soel versnit (’n rits pryse is bewys hiervan): donker vrugte soos pruimedant en met daardie kenmerkende (naas) Kleinkaroo-geure van peper en hout.

Oondgebakte hoender met esdoringstroop en pancetta

Stettyn The Guardian
Nagereg:
Ek het hierdie resep uitgedink, jare gelede, toe ek langs ’n pruimedantboord gewoon het. Diékeer het ek ryp kaalgatperskes bekom, die ontpitte halwes geprik, en met Grand Marnier marineer, verbrokkelde biscotti daaroor, en toe teen baie hoë temperatuur gerooster. Saam hiermee, Stettyn se pryswenner Chardonnay & Pinot Noir Rosé – rooi appels, sitrus, tropies vrugte……

Kaalgatperskes met Grand Marinier en biscotti

Stettyn Stone Rosé
Die hoenderresep:
- In ’n oondskottel, groot genoeg vir twee hoenders, pak ’n laag van wortels, seldery, heel knoffelhuisies, halwe uie, ’n paar lourierblare en takkies roosmaryn.
- Plaas ’n suurlemoen, verkieslik daardie hemelse outydse soort met die dik skil, vir 30 sekondes in ’n mikrogolfoond – dit maar die geure “los”.
- Halveer en plaas binne die karkas.
- Die hoenders word nou op hierdie laag gepak, liggies met esdoringstrioop gekwas, en dan bedek met ’n kombers van pancetta.
- Bak in ’n warm oond, so tee 200C vir 1,5 tot 2 uur. Halfpad deur die proses, lepel die pansous oor die hoenders, en voeg klein aartappels by.