Klik op “Listen in browser” indien jy soomloos wil luister en voortlees:
Die platanna, Xenopus laevis, leef al vir miljoene jare in vrede in Afrika suid van die Sahara. Totdat ‘n wetenskaplike met die naam Lancelot Hogben haar rus in die vyftigerjare versteur het…
Hogben bestudeer vroeg in sy loopbaan hormone deur dit in paddas in te spuit. En dit sou later ook die lot word van ons geliefde, (of grillerige platanna). In 1927 word dit toe ook so toe hy na Suid-Afrika verhuis en sy eksperimente hier voorsit met die platanna in sy visier.
In die 1930s spuit hy die platanna in met uittreksels uit ‘n os se pituïtêre klier – ‘n hormoonfabriek in die brein. In reaksie hierop het die padda begin eiers lê. Maar dit was bloot toevallig. Destyds het wetenskaplikes geweet dat die urine van swanger vroue hormone bevat en dat dit die ontwikkeling van eierstokke beïnvloed. As dieselfde hormone die eierlê in die platanna kan veroorsaak, kan die padda moontlik ‘n lewendige swangerskapstoets wees.
Hogben, moeg vir rassisme in Suid-Afrika glo, keer met ‘n hele kolonie platannas terug na Engeland waar ‘n kollega later sy werk voortsit en aantoon dat hulle betroubaar eiers sou lê as hulle aan die urine van swanger vroue blootgestel word, en het bevestig dat hulle nie spontaan eiers lê as hulle nie gepaar het nie. Hoewel Hogben krediet vir sy werk gekry het, was daar ook Suid-Afrikaanse spanne wat dieselfde toetse gedoen het.
En so was dit dat tienduisende paddas tussen die veertiger- en sestigerjare met menslike urine toegedien is.
Die “Hogben-toets” was eenvoudig: Versamel urine van ‘n vrou en spuit dit vars en onbehandeld onder die vel van ‘n wyfie platanna in. Wag dan. As die vrou swanger is, tussen vyf en 12 uur later, sal die padda ‘n groep swart-en-wit eiers produseer. Die resultate was betroubaar. Een navorser het berig dat hy, nadat hy 150 paddas ingespuit het, nooit vals positiewe gevolge gehad het nie.