Andre Conradie van Bloemfontein vra:
Goeie dag Dave,
Ek het so ‘n paar jaar gelede oorgeslaan na ‘n klaarblyklik groener produk vir my swembad. Sedertdien sien ek meer insekte in die water. Hierdie gogga het ek egter vandag vir die eerste keer in my 48 jaar gesien.
Ek neem aan dit is ‘n waterskerpioen, maar ek weet niks daarvan. Kan jy dalk vir ons meer van meneer vertel?
Groete uit ‘n deurnat Bloemfontein.
Dave antwoord:
Beste Andre,
Dit is inderdaad ‘n waterskerpioen, een van ons interessante waterinsekte.
Hulle is voorlê-predators, klou aan waterplante net onder die oppervlakte, en haal asem deur die lang buis (sifon) aan die agterkant van die insek.
Hulle swem lomp, maar vlieg, en dit is hoe hy in jou vriendelike swembad beland het.
Dit wys jou net hoe lewe terugkeer as toksiese middels (chloor in hierdie geval), onttrek word. Hulle voed op waterinsekte en, veral, paddavisse.
Hulle is egter grillerig, maar totaal onskadelik.
Wat na knypers lyk, is gryppote om die prooi te vang, en vas te hou.
Hanteer versigtig, want hulle kan wel byt!