Coert van Ryneveld van Ellisras vra:
Goeiedag oom Dave, watse kolle/knoppe is in hierdie akkedis se lyf wat aan die buitekant van ons badkamer venster saans sit?
Dave antwoord:
Beste Coert,
Geitjies het dun velle, en dus kan mens somtyds die binnegoed sien, veral deur die pensvel.
Veral by geslagsryp wyfies sien mens somtyds twee wit voorwerpe, veral agter die kop.
Hierdie strukture staan bekend as endolimfatiese kryt (kalsium)-sakkies (endolymphatic chalk sacs) en is ‘n kalsiumstoor-orgaan wat later benut word vir die vorming van eierdoppe.
Nadat wyfies eiers gelê het, krimp die sakkies merkbaar.