Simoné Smit van Oudtshoorn vra:
Ek sukkel nou al baie lank om ’n padda te identifiseer hier in my streek.
Ek bly in Schoemanshoek, net buite Oudtshoorn in die rigting van die Kangogrotte, maar het ook al ’n paar jaar gelede (toe ons nog dorpsbewoners was) hierdie geluid gehoor naby die Zeelandsnek-koppie, agter Oudtshoorn Medi-Clinic.
Die boek Paddas en Paddajolyt van Vincent Carruthers en Louis du Preez, is in my besit – met ’n CD vol paddageluide inkluis.
Dit is my vermoede dat ek hier op die spoor is van ’n tipe reënpadda, maar die naaste waaraan ek kom geluidgewys, is die woestynreënpadda – Breviceps macrops – wat glad nie by ons voorkom nie.
Die enigste verskil in hierdie woestynreënpadda se geroep en my ongeïdentifiseerde karoopadda, is dat die woestynpadda se roep “opgaan” op die einde waar hierdie een op een noot bly en effe harder word voor dit ophou.
’n Tannie wat ek ken, het altyd gepraat van “alien”-geluide toe sy nog nie geweet het dit is ’n padda wat sy hoor nie 😀
Hoop om van jou te hoor wanneer jy kans kry om hier te lees en dat die bogenoemde inligting sal help sonder die beskikbaarheid van ’n foto van die kalant.

Beeld: eFrogs van Struik
Dave antwoord:
Simoné,
Sonder ‘n foto of klankgreep kan ek beswaarlik ‘n uitkenning maak, maar ek vermoed dat jou “alien” dalk die Kaapse Berg-reënpadda is.
Soos byna alle reënpaddas lewe hulle ondergronds en mens word slegs bewus van hulle net voor dit reën, wanneer hulle begin roep.
Dis nou paartyd, en na bevrugting word die eiers in ‘n ondergrondse kamertjie gelê. Hulle is waarlik die “tortels van die nag” en een van my gunsteling paddas.