Marius Fourie van Brakpan vra:
Ek het twee vrae waaroor ek baie wonder.
Die eerste een is: hoe vind wedvlugduiwe hul weg terug na hul hokke oor honderde kilometer vanaf plekke waar hulle nog nooit vantevore was nie.
En die tweede een, wat veroorsaak dat rollerduiwe agteroor tuimel in die lug, spesifiek die Birmingham Roller wat dit teen ‘n ongelooflike spoed doen.
Dave antwoord:
Beste Marius,
Jou eerste vraag het ‘n komplekse antwoord, maar ek sal dit probeer verpak in ‘n korter skrywe.
Voordat wedvlugduiwe kan vlieg in kompetisie, moet hulle eers ge-“home” word, dit wil sê hulle moet die hok en die ligging assimileer.
Wanneer hulle losgelaat word, sien mens dat hulle gewoonlik eers tol om die voertuig, en dan slaan hulle rigting in.
Hulle gebruik die son, die polarisering van die lig, met ander woorde die hoek waarteen dit inval (onthou ook dat alle diere, insluitende die mens, ‘n ingeboude horlosie het, en dit bepaal onder meer ons slaapgewoontes), die aarde se magneetveld, en, somtyds die infraklank van die kus, wat hulle oor honderde kilometers kan hoor.
Net voor hulle gaan sit by die tuishok, draai hulle weer om die hok se reuk te vang, en dan eers kan hulle gaan sit!

Duiwe moet ook eers hul hok assimileer.
Oor die tuimelaars: Spasmes in die nek van hierdie duiwe veroorsaak dat hulle bollemakisie slaan. Soos met hoenders, honde, katte, varke ens. is hierdie einskap oor baie jare geselekteer om vreemde vorme, kleure en gedrag te kry.