Hoe ons aardsheid ons wyse bepaal
11
Aug 2021

Lees meer in

Ek het in trane uitgebars, want in my geil verbeelding het daar ’n dooie hondjie gelê in elke bos riete, biesies en ruigte…

Tant Ella van Zyl was my Ouma Lilly se oujongnooi-suster en het langsaan, saam met haar suster Susie, in ‘n verruklike Viktoriaanse huis gewoon.

Elke oggend het sy Ouma Lil tot raserny gedryf deur oor te stap, die kookpotte se deksels op te lig en te vra: “Lil, waat kook jy?”

Ouma het so kwaad geword dat sy moes gaan skuinslê, die rooi fluweelgordyne toegetrek teen die Klein-Karoolig.

Sondae het Ella die serfyn gespeel by die Salvation Army – Redemption Songs vir ‘n gemeente wat nie ‘n woord Engels verstaan het nie.  Voor in die saaltjie was ‘n sandlaai met die diens van die oggend geïllustreer en uitgepak in nerf-af loodfiguurtjies – altyd ‘n donkie en ‘n kameel langs lewensmoeë dissipels.

Ek het tussen die orreltjie en die sandlaai gesit, oorweldig deur angs, want ek het toe al geweet dat ek ‘n gebore sondaar is, en dat die doodsondes my voorland was.

Sondae-middae, na ete, het Ella voor haar eie serfyntjie in die voorkamer gaan sit, die Redemptions Songs gepeel en dan het sy stadig oor die klawers ineengevou en stil begin gehuil.

Ella het haar lewe lank geboet.  Sy en ‘n eerste liefde is deur haar pa betrap, een Saterdagaand onder die naartjieboom by die buitetoilet – hy het huistoe gestorm en teruggekom met ‘n karwats en hulle geslaan tot beide op die grond gelê het.  Redemption?  Nee.

Maar Ella kon tuinmaak, en het geweet hoe om ‘n appeliefie met ‘n hoedenaald te prik sodat die perfekte ronde vruggies in die konfyt, soos met amber, lig deurgelaat het.

Physalis peruviana (cape gooseberry) -

Physalis peruviana (cape gooseberry) – die appelliefie.

 

Uit een van my gepubliseerde stukkies:

Die jaar toe ek vier geword het, het my tante Ella my aan die hand geneem en dorp uit gestap na die kerkhof.  In haar ander hand was ’n vlak mandjie, die bodem bedek met snyblomme uit haar Victoriaanse tuin: skeefblom, paasrose en dwerg-dahlias.  Oor die Willem Nelsrivier, deur die ongemerkte grafte van die Groot Griep van 1918, tot by die rusplek van haar ouers.  Ná ons die graf skoongemaak en die blomme ingesteek het, het ons na die dorpsmeent langsaan gestap on te gaan knikkers soek. En hiér het Ella ’n versie vir my opgesê:

 

Daar onder in die biesies

Daar lag een hondje dood

zijn staartje was bevroren

zijn beentje was bloot

 

Ek het in trane uitgebars, want in my geil verbeelding het daar ’n dooie hondjie gelê in elke bos riete, biesies en ruigte.

Ella kon op byna sewentig nog boomklim as ‘n mossie uit die nes geval het.  Haar reuse voëlhok by die agterdeur was ‘n hospitaal vir wesies en verstote duifkuikens.  Sy kon tuinmaak, fyntuin by die voordeur, groentetuin agter die huis.  Sy kon waterlei, eenmaal die week wannner die bergwater uitgekeer is by die sluis en sissend oor die droeë grond gerol het.  Ella was waarlik geaard.

My ma was ook só ‘n mens.  Soos by Zen leerling-monnike van ouds, is dae struktuur gegee deur vaste rituele – want dié wat uit en aangehou het, het Bodhisattvas geword – heroïes en stralend.  Selfs voor dagbreek het jou dag beslag gekry met tuisgebrande koffie gemaak in ‘n emaljekan en ‘n flenniesak (toe Oupa Abraham kens geword het het hy 4-uur opgestaan om koffie te maak en dan Ouma Rosenkrans gaan wakker maak as die water nie wou kook nie, en dan vars water opgesit).

Teen dagbreek moes jy vee – ‘n bergbesem met ‘n knoetsige stok – en jy moes hom inbreek want ‘n stompie-besem het skoner gevee.  Dagbreek was ook die tyd vir skilferdeeg maak want die marmerblad moes koud wees van die naglug.  Soetsuurdeeg-brood is nou ingesuur, rooi bolus in die soetkoekiedeeg ingevou, en met pase, was sy teen eerste lig voor Ouma Lilly se deur met bolletjies, nog warm toegevou in ‘n skoon doek, naeltjies an kaneel tussen die voue.

Sy het ruim tuingemaak want daar was altyd genoeg vir ‘n kado’tjie wat straataf gestuur is.  Nie net ‘n paar roosbome nie, nee, ‘n reuse akker.  As jy rose gepluk het was dit armsvol.  Renonkels en anemone is by die honderde geplant om ‘n pointilistiese effek te verkry en mignonette, kattekruid en polei tussen die plaveisel om jou voetslag te verryk.  My ma is geaard.

Kattekruid

Destyds, in my geboortedorp, was daar ook rituele en instellings wat nie slegs die individu, maar die hele gemeenskap saam geaard het.

Paasoggend, net na 4-uur, hoor jy ‘n blaasorkes opwarm in die Jubelsdorp.  Die “koperorkes”, bestaande uit hoofsaaklik stokou blasers, kom bymekaar voor die huis waar die mees onlangse baba gebore is.  Daar vorm die linie en hulle begin ‘n eenvoudige instrumentele klaagsang speel en stap op maat van ‘n basdrom, straatop en straataf en sovêr hulle stap, sluit mense uit donker huise aan.  Na ‘n halfuur is die bodorp skoongevee van volgers en die stoet kry koers na die kerkhof, oorkant die Willemnelsrivier.

By die nuutste graf wag die dominee met ‘n bybel en ‘n mandjie vol stompiekerse.  Die stappers kry elk ‘n kersie, dit word aangesteek en, met eerste lig, sing hulle ‘n enkel lied om die nuutste graf, die dominee bid, en dan, een-een stap die mense huistoe.  Hierdie mense was geaard.

Twintig jaar gelede breek ons voertuig teen die hange van Mount Elgon, ‘n reusagtige stil vulkaan op die grens tussen Uganda en Kenia.  ‘n Leeftyd van reis in Afrika het my al geleer om hierdie katastrofes met gelatenheid te aanvaar.  Want sou jy daarteen skop, opgewonde raak, probeer help of wegloop, verander ‘n doodgewone nagmerrie na ‘n vignette uit “Heart of Darkness” van Conrad.  Ek het langs die pad gaan sit en na die verstommende argitektoniese struktuur van die bome gestaar.  ‘n Groepie byeboere, met tuisgemaakte korwe van uitgeholde boomstompe het verbygestap.  Altyd nuuskierig na ongekunstelde produkte, het ek die groupie onderskep en begin uitvra.  Ja, hul kon monofloristiese heuning maak, en ja, daar was veelvuldige gebruike vir hul heuning, van die  behandeling van brandwonde tot die opkikker van slaapkamer met tegnieke wat die Kama Sutra na ‘n voorskoolse huisflyt-pamplet laat lyk het.

Maar toe sê een van hulle dat hy bye kon roep.  Dadelik was ek reg om die triompf van die wetenskap wat alle toordoktery kon uitwis met sy helder vlam van weet, op die proef te stel, en ek het hom nét daar uitgedaag.  Dit sou tyd neem het hy gesê, want hy moes eers die regte stokkies gaan soek vir sy bye-vuurtjie.  Tyd het ek gehad, want ons voertuig was lewensmoeg.  Die byeroeper is woud-in, en na ‘n uur het hy teruggekeer met ‘n vuis vol stokkies.  Hy het ‘n stukkie aarde skoongevee en versigtig gepak aan ‘n staweltjie takkies oor ‘n kern van spaanders.  Hy het die vuurtjie aangesteek en doelbewus laat smeul, en so binne die rookkolom het hy begin sing aan sy byelied.  Ek, eenkant, het die toneeltjie afgeneem, in my noppies met nog ‘n voorbeeld van primitivisme wat ek in my lesings oor bewaringsfilosofie kon gebruik.

En toe, kom die bye.  Hierdie man was waarlik ge-aard.

My soeke na vergelykende ondervindings het my onlangs by parfuum uitgebring.  Na ‘n leeftyd van roekeloos lees en luister, na ‘n leeftyd van eksperimenteel kook, het van die aktiewe sinne, slegs reuk oorgebly.  Ek het begin versamel: eers net aan die sistematiese verkenning van die bekende ikoniese geure soos roos, katjiepiering, tuberoos, kanferfoelie angelier, iris en heliotroop.  ‘n Nuwe wêreld het oopgegaan te midde van die bekende want ek het skielik besef dat selfs die roos afstootlike komponente bevat as jy vergelykend begin snuf – skatole en gekneuste geure tussen die soet.

Toe het die kopery begin – uit Switseland, Ozmoz se verruklike draagbare osmotekies met geure uit die bybel – Les coulisses du parfum – “Die vlerke van parfuum” – seder, mirre, sandelhout, bensoien, kuskusgras, balsam, patchouli, galbanum en oliban.  Net aan name was dit al genoeg, en om nou die rou komponent onder die neus te kon hê het elke dag omskep in ‘n splinternuwe verkenning.  Skielik kan ek die vleeslike ruik in Ropion se Carnal Flower, ek herken insmeersalf in die bonote van Serge Lutens se Tuberuse Criminelle, en daardie onderskatte wyn-kultivar uit Nuy, Ferdinant de Lesseps, in Andy Tauer se Pertachords en YSL se nuwe Belle Opium.  Daar is nou parfuum in ou boeke, toe kamers, ‘n sliert lug by ‘n tuin agter ‘n muur, in gebakte brood en soetkoekies.  ‘n Fietsrit is nou nooit meer vervelig nie, geen wandeling is sonder verassings en uiteindelik kan ek begin ek dink aan geure soos ek musiek en boekpassasies onthou.  Miskien ly ek aan ‘n nuwe vorm van sinistestesia, maar wat ‘n wonderlike toestand.  Is ek geaard?  Ek dink ek is op pad.

En het my passie vir Ysland iets hiermee te make?  Sonder enige twyfel.  My eerste oogopslag van die eiland was uit ‘n vliegtuig nadat ons ure oor ‘n leë oseaan gevlieg het.  ‘n Soom van as en klinkers het skielik verskyn, so bar soos die oppervlakte van Mars..  Eers op die grond kon ek kniel, en van naby, na van die nuutste grond op aarde kyk.  Puimsteen en obsidiaan, as, en gestolde magma kraak onder jou skoen, met mosse en pionierplante soos perdewortel wat aan fyn nissies kleef.

Ook die mense van Ysland kleef so aan hul rustelose aarde.  Stil Wiking reuse, wat stil beweeg.  Hulle kry hul elektrisiteit uit aardstoom ,en dieselfde stoom hou hul dorpspaaie en sypaadjies ysvry in die winter.  Hul skape, honde en perde is geneties suiwer sedert die jare 1300 en hulle hou dit so.  Die Yslanders is verbete skrywers as jy kyk na die reusagtige skat van sages en fabels, hou hulle die stories lewend.  Geen wonder dat Manfred Eichler gereeld sy kunstenaars hierheen stuur as hy baanbreker-opnames maak nie.  Uitgelewer aan hulself en die musiek, word meesterstukke geskep.  Die Yslanders is ge-aard.

Iceland City Reykjavik

 

Waarom moet ons aan die aarde raak?  Om ons op ons plek te sit.  Ek is seker daarvan dat universele ekologiese apatie en ekologiese onkunde die oorsaak is van ons planet se skrikwekkende ineenstorting.  Die funiculus umbilicalis wat slegs vyftig jaar gelede meeste van ons mense aan die aarde verbind het, is weggesny.  Dink bietjie daaraan: dorpe het tuine gehad met hoenders en vrugtebome, babas is tuis gebore en oues het tuis gesterf.  Slagters het vleis by jou deur afgelewer en melkbeeste het teen die dorpgrens gewei.  Katte, honde, en hoenders het kleintjies op jou voorstoep gebaar – ‘n kind het grootgeword in sy eie mandala, om hom het die lewende wêreld sigbaar en tasbaar uitgekring.  Nou leef hy in ‘n kuber-mandala.

En, as dit te laat is om aan die aarde te raak, as ons te vêr van die aarde woon?  Dan kan ons dooroor praat en daaroor skrywe, om seker te maak dat hierdie kodes nooit verlore gaan nie.

Want wat is ons sonder woorde, sonder geheue?  Wat is ons sonder die WAT?

 

Ons is wat ons is omdat ons onthou en ons is wat ons is omdat ons woorde het.

David Abram skryf in The Spell of the Sensuous, sy meditasie oor wat lewe en wat dood is

“For those of us who care for an earth not encompassed by machines, a world of textures, tastes and sounds other than those that we have engineered, there can be no question of simply abandoning literacy, of turning away from all writing. Our task, rather, is that of taking up the written word, with all of its potency, and patiently, carefully, writing language back into the land. Our craft is that of releasing the earthly intelligence of our words, freeing them to respond to the speech of the things themselves – to the green uttering forth of leaves from the spring branches. It is the practice of spinning stories that have the rhythm and lilt of the local soundscape, tales for the tongue, tales that want to be told, again and again sliding off the digital screen and slipping off the lettered page to inhabit these coastal forests, those desert canyons, those whispering grasslands and valleys and swamps. Finding phrases that lace us in contact with the trembling neck-muscles of a deer holding its antlers high as it swims toward the mainland, or with the ant dragging a scavenged rice-grain through the grasses. Planting words, like seeds, under rocks and fallen logs – letting language take root, once again, in the earthen silence of shadow and bone and leaf”.

– David Abram

Kom ons skryf die taal terug na die aarde want ons is wat ons is omdat ons onthou en ons is wat ons is omdat ons woorde het.

 

Sondagtafel: Vroeë paasfees

Sondagtafel: Vroeë paasfees

Dave kook ter herinnering aan sy ma met eenvoud as sy riglyn. ‘n Vroeë paasfeestafel is gedek in die tuin.

Dave se Sondagtafel

Dave se Sondagtafel

Vandag kook ek met aspersies in pruscuitto, wortels en aartappels by persie-boud, en vir nagereg klassieke Engelse fool.

VRA VIR DAVE

Die dag as ‘n Springbok jou tuin invaar…

As jy nou wel Springbokke in jou agterplaas aanhou, dan is hier raad. Lees hier…

How to get rid of cockroaches in an ecologically friendly way

Follow this advice if you want to get rid of cockroaches without any unnatural poisons.

Reader asks: Can you identify this awfully ugly bug?

This little bugger is not what it seems to be.

HERINNERINGE

Vergete resepte – nes jou ouma dit sou maak!

Almal het ‘n ouma of ma wat ‘n dis kon gaarmaak en optower – en wat ons nooit meer vandag maak nie – maar wat ons vir altyd sal onthou.

Dave onthou kinderdae, die ritueel van blomme pluk en sy geliefde Ouma

Ou, bekende reuke neem Dave terug na sy kinderdae en sy geliefde Ouma Lily.

Hoe ons aardsheid ons wyse bepaal

Ek het in trane uitgebars, want in my geil verbeelding het daar ’n dooie hondjie gelê in elke bos riete, biesies en ruigte…

VERKENNINGS

Die disrespek en boewery van ons begraafplase

Die skending van ons begraafplase is iets wat aandag moet kry.

Beleef die natuur en die reukruim met Dave

Dave reël gereeld uitstappies met groepe wat belangstel om hul eie wilde sampioene te versamel asook praatjies oor parfuum.

All the photos from the coldest night of the year

Judging by these photos, it was indeed a cold night.