Vir jare lank was dit ’n debat wat gewoed het: is daar ’n gay geen in ons genetika of was dit die gevolg van invloed van ’n lewe ná geboorte?
Ook vir evolusionêre bioloë was dit ’n paradoks. Dink só daaraan: Indien daar ’n gay geen was, sou dit nie kon voortbestaan nie, bloot omdat mense wat tot dieselfde geslag aangetrokke is, nie sou voortplant nie en dus sou so ’n homoseksuele geen selde aan die toekomstige geslagte oorgedra kon word. Maar tog is mense wat aangetrokke is tot dieselfde geslag ongelooflik wydverspreid by mense. En nou het nuwe navorsing in genetika daarop gedui dat aantrekking tussen dieselfde geslag deels geneties is.
Voor ons verder gaan: hierdie is ’n analise van die jongste wetenskaplike navorsing. Dit is geen sedepreek of waarneming van die mensdom of geloof nie en moet daarom as sulks gelees word.
Die jongste studie
Genetiese patrone is geïdentifiseer wat verband hou met homoseksuele gedrag. Dit kan dalk die raaisel ontsluit oor waarom dié sogenaamde gay geen werklik kan bestaan – en dus waarom homoseksualiteit vir generasies tot generasies bly voorkom.
Die studie is in Augustus vanjaar in die vakjoernaal Nature Human Behaviour gepubliseer.
Die omvang
Data van honderde duisende mense is ingesamel en daar is inderdaad afgekom of genetiese patrone wat gaywees kan verklaar. Die studiegroep is aansienlik groot, wat beteken die studie is gesaghebbend, in ’n uiters noukeurige joernaal gepubliseer en dra gewig.
Is daar teenkanting?
Ja, soos altyd, is daar binne die wetenskap vrae en dit is die normale aard van die wetenskap. Die vrae tans is of daar definitiewe gevolgtrekkings gelewer kan word. Dit word egter nie soseer bevraagteken of die gay geen bestaan nie, maar wátter gevolgtrekkings ons daarvan moet maak.
Hoe is die studie gedoen?
Altesaam 477 552 mense wat erken het hulle het minstens een keer al seks met iemand van dieselfde geslag gehad se genoom is ontleed. Daarteenoor is nóg 358 426 mense wat sê hulle het nog nét heterokseksuele seks gehad se genome ook ontleed. Vir navorsingsdoeleindes het die studie net gefokus op mense wie se geslag en gender dieselfde is.
Vroeër is bevind mense wat ten minste een keer seks met iemand van dieselfde geslag gehad het, is geneig om ’n patroon in hul genoom te toon wat verskil met mense wat nie geneig is tot hierdie selfdegeslagervaring nie. Nie een van hierdie variasies (lees mooi: nie afwyking nie) het egter uitsluitlik getoon dat dit ’n invloed kon hê op seksuele gedrag nie. Dit het dus ook vorige navorsing ondersteun dat daar nog nie ’n “gay geen”gevind is nie.
Maar die versameling variante het in die algemeen ‘n klein effek gehad, wat tussen 8% en 25% van die oorerflikheid verklaar.
Vervolgens het die navorsers ‘n rekenaaralgoritme gebruik om menslike evolusie oor nie minder nie as 60 generasies na te boots. Hulle het gevind dat die verskeidenheid genetiese variasies wat verband hou met gedrag van dieselfde geslag uiteindelik sou verdwyn het, TENSY dit mense op een of ander manier gehelp het om te oorleef of voort te plant.
Beperkings
Die navorsers erken daar is tekortkominge in die studie. Al die deelnemers was byvoorbeeld net van Europese afkoms. Die databasis waaruit hulle gewerk het, het ook vrae gevra oor net seksuele gedrag en nie ware aantrekkingskrag nie. En meeste deelnemers is gebore in ‘n tyd waarin homoseksualiteit óf onwettig óf kultureel taboe was in hul lande, so baie mense wat tot ander van dieselfde geslag aangetrokke was, sou moontlik nooit werklik met iemand van dieselfde geslag seks gehad het nie, en kon dus in die verkeerde groep in die studie beland het.
Tog beteken dit dan egter dat die aanduidings in die studie dalk veel sterker is as vermoed.
Bronne:
- Zietsch, B. P. et al. Nature Hum. Behav. .
- Ganna, A. et al. Science 365, eaat7693 (2019).