’n Pes is enige lewende organisme wat voorkom waar dit nie hoort nie, veral as dit die welvaart van mense impakteer.
Ons almal is bekend met peste; die miet in jou broodmeel, die kleremot in die donker kas, en dan, veral in die tuin, waar peste seëvier. Peste trek saam met mense, en só het die Noorweegse rot tot die uithoeke van die aarde versprei, die kokkerot in elke kombuis, die vlooi op elke hond.
Plante trek ook saam, en mens sien dit veral in die Kaapse lente waar Patterson’s Curse, Echium vulgare, landskappe omtower in die mooiste, maar dodelikste blou – níks stuit hierdie plant nie.
En so van plante gepraat, daar is ’n onkruidliga wat bekend staan as versteuringspioniers want hulle is aangepas om die nis van versteuring te beset. Mens vind hulle langs paaie, in landerye wat pas geploeg is en, natuurlik in ons tuine, waar ons deurlopend krap en spit. Een van hierdie kosmopolitiese “peste” is Amaranthus, waarvan vele spesies voorkom. Tuiniers sal dit ken, beide as pes en sierplant – wie onthou nog outydse tuine met hanekam?
Stap deur enige plattelandse mark in Afrika, en daar sal jy Amaranthus-spriete en blare vind, aangebied as “greens”, en hier in Suid-Afrika staan dit bekend as marog. Kyk mens na die produksie en voedingswaarde van marog, is dit seker een van die mees onderskatte plante op aarde.
Hier is feite*:
- Marog kan maklik gekweek word van saad, maar is nie bestand teen ryp nie
- Wanneer gevestig, kan blare elke 10 dae geoes word
- Op kommersiële skaal is die opbrengs tussen 30 en 60 ton per hektaar
- Dit staan bekend as ’n C4-plante, wat sonlig optimaal benut by lae watervlakke
- Die saadjies is uiters voedsaam met hoë vlakke van lisien, ’n belangrike alpha-aminosuur, maar dis nie bekend as Afrika-graan nie.
- Verder bevat dit hoë vlakke van proteïen, (26 – 30%) en vitamien A, en dit beteken dat ’n daaglikse porsie van 100 gram jou proteïenbehoeftes sal voorsien.
- Die ystervlakke in so ’n porsie is vyfmaal die daaglike behoefte, en kalsium in die orde van driemaal, en by Vitamien A, 20 maal die daaglikse behoefte.
Toe ek hierdie artikel van The Guardian gelees het, het dit my opnuut opgewonde gemaak oor die moontlikhede vir ons gebroke land. Reg onder ons neuse lê die antwoord teen voedseltekort, hongersnood en ondervoeding.
In die vroeë 90s moes ek ’n week lank oorstaan in Moskou, op pad na Kazakhstan. Kommunisme het pas in duie gestort, en alle supermarkte was eenvoudig dolleeg. Van my balkon op die twintigste verdieping het ek saans gekyk hoe families, mandjie in die hand, onkruid versamel het, bloot om oorlewing.
Dis nou tyd, hoogtyd, dat ons hierdie merkwaardige plant begin gebruik as stapel.