Ek lees, sprakeloos, dat my eertydse buurdorp, Worcester, se splinternuwe kerkhof-hekke gister gesteel is. Net verlede Sondag was ek op Robertson, my beboortedorp, en was opnuut geskok oor die haglike toestand van hierdie statige ou kerkhof, met vernielde grafte wat na ’n voorstad van Kabul lyk.

‘n Engel se kop is heeltemal afgebreek in die begraafplaas in Robertson. Foto: Dave Pepler
Dit gaan eenvoudig my verstand te bowe dat enigiemand so wraaklustig en berekend kan optree. Wat gaan in hul koppe aan wanneer hulle die rye afstap, en een-vir-een die grafstene verpletter? Lag hulle? Is hulle stil terwyl hulle verniel en verwoes? Maar dan weet ek ook dat psigopate absoluut geen gewete of empatie toon nie.
Eenmaal het ek só ’n persoon gevra wat in sy kop aangegaan het toe hy wandade gepleeg het. Sy antwoord was: “Niks”.

Nog ‘n geskende graf.
Nou begin ek dink dat ons moet saamstaan en iets aan hierdie kulkturele oorlog doen want daar is steeds kosbare en unieke beelde wat bly staan.
Kan mens begin dink om hierdie onvervangbare skatte eenvoudig te verwyder, natuurlik met die familie se toestemming, en dit veilig te bewaar? Dalk is daar plattelandse dorps-museums wat dit kan akkomodeer?
Kom ons begin saam dink aan planne om iets aan ons bedreigde kultuurerfenis te doen. Ek luister, met aandag.

‘n Gedeelte van die graf eenkant op die grond.