As jong kind het ek gereeld naweke oorgebly by Oupa Boy en Ouma Lily. Hul huis, aan die bopunt van Truterstraat, was naby die dorpseinde, en net die Willemnelsrivier het die buurt geskei van die “kerkowwe” en “die lanne” (dorpsmeent).

My pa, Ouma Lil, Oupa boy, en ek.
Oupa Boy het Saterdae vroeg gebad, en dan het hy sy kruiwa met ’n goiingsak uitgevoer, en my dorpuit gestoot veld toe. Deur Hopley-laan, oor die bruggie, en dan verby die kerkhof, het die pad na die veld gelei, met ’n bloekombos knap na die meent. Oupa het gepraat van “bloggoms”, vermoedelik só afgelei: blue gums=blougom=bloggom.

Ek in die kruiwa.
By die eerste bobbejaansnuif het ons gestop, Oupa het my uit die kruiwas getel, en dan het ek die ryp swamme geskop. Nooit, nooit sal ek die bruin stofwolke vergeet nie, al proesend het ek en Oupa in ’n khaki-wolk gestaan; ek effe histeries.

Bobbejaansnuif. Foto: Dave Pepler
Bobbejaansnuif is ’n universele swam, Pisolithus arhizus, en kom veral onder bloekombome voor. Dit verskyn as ’n donkerbruin bal, en dis g’n wonder die ander volksnaam perdebal is nie. Mettertyd verleng die bal, ellipties, en dan, wanneer die spore ryp is, breek dit aan die bokant, en stel die spore vry aan die wind.
Die Engelse naam is dyeball, en om goeie rede. Mens kan hierdie swam gebruik om stoffasie te kleur, in tinte van roes en bruin. Veral in Chile, by die Mapuche, word it gereeld gebruik om Llama-wol te kleur.

Die wol nadat dit gekleur is.
Maar vir my is bobbejaansnuif die kode, die skakel, na tye van eerste ontdekking en eerste verwondering.