
Aspersie met prosciutto crudo
‘n Gewaardeerde vriend boer in die Kalahari, daar oos van Van Zylsrus, teen die walle van die Molopo. Dis hier waar ek die verstommende smaak en tekstuur van Presie-vleis die eerste keer beleef het. Na daardie eerste proeslag, sal skaapvleis nooit weer dieselfde smaak nie, nog minder lamsvleis, wat my mateloos verveel. Persies dra vet, baie vet, en mens moet maar afsny voor die skottel oond-toe gaan.
Hoofgereg:
-
Ontbeende Persie-boud, met skenkels
Eenvoud, soos alyd, met sulke primavleis. Smeer die vleis met ’n dun lagie olyfolie (dit help die sout-en gamaalde peper kleef), en plaas in ’n oondskottel. Na smaak, grofgesnyde ui, skywe suurlemoen en ’n takkie of twee vars roosmaryn, en geur met seesout en gemaalde peper. Oondtoe, so teen 190C, bedek met foelie, vir ten minste 3 uur. Verwyder nou die foelie, en voeg klein wortels en artappels by, en terug oondtoe vir nog 40 minute. As bygereg, aspersie met prosciutto crudo. In ‘n plat oondpan, plaas die aspersies in kombersies van prosciutto crudo, op ’n smeersel olyfolie. Rooster vir ongeveer 4 minute, todat die ham lekker begin kraak.

Ontbeende Persie-boud, met skenkels
Nagereg:
-
Mango Fool
Toe my ma as sjef in London gewerk het, was een van haar geliefde nageregte, die klassieke Engelse fool. Tradisioneel is dit vrugte-puree, gewoonlik apeliefies, wat by geklopte room ingevou is. Hierdie nagereg is reeds sedert die 1500’s bekend, en die oorsprong van die naam is vermoedelik uit die Franse “fouler”, wat gedruk, of gepars beteken. Hier is my aanpassing van die ou resep, met mango.

Mango’s
Bestanddele:
- 2 ryp mango’s, geskil en ontpit
- Vars room
- 1 eetlepel suiker – ek gebruik hier organiese bruinsuiker.
- 1 teelepel vars suurlemoensap.
Metode:
- Sny die mangostukke in klein blokkies
- Klop die room tot dit sagte pieke vorm
- Verpulp die helfde van die mango
- Vou nou die mangopulp by die room in
- Onder in ’n desertglas, lepel ’n lagie pulp, dan die room, en versier met blokkies mango
- Verkoel in yskas vir ten minste 1 uur.

Mango Fool
Wyn:
-
Reserve Cabernet Sauvignon van Boland Kelders.
As bosboustudent, by Saasveld, het ek die eerste keer kennisgemaak met Cabernet Sauvignon. Die ou styl cabernet, donker soos skool-ink, hoë tannien, en met genoeg hout, onthou ek toentertyd se Neberburg Cabernet, teen 50c die bottel, en Alto Rouge, nogal “upmarket” teen 55c die bottel. Dis wat ek altyd van hierdie ou wyne sal onthou, ’n vestommende “grip”, en ’n nasleep wat redelik linieër was. Toe, in die 80’s, het ek kennisgemaak met die groot, gróót Franse versnitwyne. Daar het ek geleer van “finish”, die nasmake wat eenvoudig aanhou en aanhou.
Boland Kelders se Reserve Cabernet Sauvignon (2019) is nog ‘n jong knaap. Mens is dadelik bewus van die 14% alkohol, die intense kleur, en die digte neus. Dis wat die kelder van hierdie wyn sê:

Boland Kelders se Reserve Cabernet Sauvignon (2019)
“This handcrafted Cabernet Sauvignon has layers of ripe blackcurrant and spice flavours on the palate, well-balanced with firm structure and elegance followed by lingering savoury notes. Lengthy barrel ageing adds complexity and elegance to this richly layered wine. A full-bodied wine with excellent ageing potential. Delicious with grilled beef or any red meat dishes.”
My mening is dat hierdie wyn nog so 4-5 jaar moet sluimer om tot sy volle reg te kom, veral ten opsigte van die nasmaak. Ek ruik donker vrugte (bessies) en een van die mees komplekse kruie-komponente wat ek al in ’n Suid Afrikaanse rooiwyn beleef het (ek verbeel my dat dit gerens aan ligte kerrie, en ek vermoed dat ’n riggel van borrie dit aanhelp). Koop nou, en bêre hierdie wyn – oor 5 jaar het jy ’n meesterstuk.