Toe ek ‘n kind was op Robertson, het Ouma Lilly, net eenmaal die jaar, Oupa Boy aangesê om veldtoe te gaan met ’n emalje-emmertjie, ’n lagie water oor die bodem. Die Opdrag? “Gaan pluk naeltjies vir die voorhuis”
Toe ek groot genoeg was om saam te stap, het Oupa my meegeneem; ’n lemoen vir padkos, en koue, soet melkkoffie in ’n wynbottel, toegedraai in bruinpapier. Ons het gestap van die huis, want Oupa het nie ’n motor gehad nie. Oor die Willemnelsrivier, verby die kerkhof, oor die dorpsmeent, na die voetheuwels van Wolfkloof.
Daar, tussen num-num en melkbos, het die naeltjies knap teen die grond gegroei – baftablou, en fyn. Laperousia piramidalis is een van die wonderwerke uit die reukruim van blomplante. Die naaste wat ek kan kom aan enige olfaktoriese tipering, is die reuk van daardie vergete meesterstuk van Coty, Masumi*. Met ons emmetjies vol blommetjies het ons teruggestap na Ouma se donker huis.
Versigtig het sy die blommetjies styf gepak in ’n portrooi Murano-glasbak, dit op ’n tafeltjie voor die venster neergesit, en die gordyne effe oopgetrek. Die gesamentlike effek van skuinslig, kleur en die soet riggel van die naeltjies is vasgelê in my gedagtes. Vir dae aaneen is die huis deurdrenk met ’n onsigbare, soet miasma.
Alte goed onthou ek ’n tikster, uit die vroeë sewentigs wat somtyds Masumi aangespuit het. Nét daar, in die gang, is ek weggeruk na die veld van Robertson.
Elke jaar, die tweede week in September, ry ek spesiaal na Robertson, nét om naeltjies te gaan pluk vir my voorkamer. Tuis, steek ek die naeltjies in, ek nes Ouma, maar helaas vertoon hulle nie in ‘n Murano-glasbak nie. Hierdie stil rituele is belangrik want dit bevestig soveel dinge: my tuisdorp, my kindwees en my drome.
Ek doen dit omdat ek onthou.
Tegniese nota: Die enigste manier om uit te vind watter komponente hierdie hemelse reuk bevat, sal met behulp van gaschromatografiese analise. Ek kry geen ontleding in die literatuur nie, maar as ek moet raai, sal dit so-iets wees: alpha pinene, myrcene, octanal, linalool en (E)-nerolidol bevat. Een ding is seker; ek dink dis bykans onmoontlik om dit akkuraat te herskep. Ookmaar goed só, want ek wil volgende jaar weer ry.

My pa, Ouma Lilly, Oupa Boy, en ek