Wat op aarde ek daardie nag in Robertson se hoofstraat gemaak het, weet die hemel alleen. Ek en ‘n vriend het op ons fietse gesit, voor die Arcadia-kafee, koeldrank in die hand. En toe, om 22.30 begin die aarde onder ons voete ruk. My blywende beeld van die gebeurtenis was die mou-strepe in die middel Kerkstraat, wat soos ‘n lewende dier op die swart teer beweeg het. Ons het ‘n bottel gin bekom, en die histeriese tannies in Kerkstraat ordentlik hoenderkop gemaak.

Skade aan geboue in Tulbagh op 29 September 1969. Foto: ResearchGate
Maar daar is ‘n ander storie hieroor. ‘n Geliefde vriend was poliesman op Wolseley, en het ‘n noodoproep van die ouetehuis in Ceres onvang – Tant Kittie was skoonveld. Hulle het deurgejaag en by die ouetehuis aangekom. Daar het die verwarde inwoners, in Candlewick-kamerjasse, voor die verwoeste ouetehuis gestaan. Niemand het geweet waar Tant Kitty was nie. Andries (my vriend), flits in die hand, het begin by Tant Kittie se kamer, waar die kooi nog opgemaak was. Uiteindelik kom hy by die badkamer, en hoor vae geluide uit ‘n bad, oortrek met rommel.
Tant Kittie! het hy geroep. En toe kom die stem uit die bad. “Kriegie, is dit jy?” Hy was verlig om haar lewend te vind, en toe hy die rommel verwyder, lê Tant Kittie stokstyf en kaal, oë so groot soos pierings. “Tant Kittie! Hoe voel jy?”
“Ag Kriegie, ek het net mooi my bad getap, ingeklim, toe ‘n verskriklike beroerte my beetpak. Beroerte verlam ‘n mens, nie so nie? En met my laaste krag het ek die badprop met my toon uitgepluk, want ek wou nie só tot my einde kom nie”
Andries het Tant Kittie in ‘n kamerjas toegewikkel, en sy het kersregop na buite gestap.