Die eerste aarbeie is op die winkelrakke. Alte goed onthou ek lente in Parys, wanneer die eerste frais du bois (wilde-aarbeie) by die groentestalletjies verskyn het. Mense het tougestaan om hierdie verruklike vruggies te koop, en netsó op straat te eet. Hier is my probeerslag om iets van die intensiteit van daardie geur te herskep.

Frais du bois
Bestanddele:
Vars, groot aarbeie
Portwyn
Kardemom
Swart peperkorrels
Metode:
Sny aarbeie in kwarte, plaas in kastrol, bedek met port. Voeg fyngemaalde kardamom en heel swartpeperkorrels by, na smaak. Laat die aarbeie blus (ongeveer 10 minute op lae hitte). Druk deur ’n sif, en konsentreer die sous deur dit baie stadig af te kook.
Bediening:
Op ’n skeppie volroom-joghurt, sny ’n groot vars aarbei in dun skywe, plaas op joghurt en skep ’n lepel konsentraat bo-oor.